Daardie één Ding
Add to FavouritesRomeine 15:13 Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!
Dit lyk asof ons almal tog op die een of ander manier gemaak is om na plesier, bevrediging, vreugde, vrede of geluk of wat jy dit ook al wil noem, te smag … Ongelukkig is die probleem, dat die meeste van ons op al die verkeerde plekke daarvoor gaan soek.
Hier’s ‘n vraag: wat is die één ding in jou lewe wat ontbreek? Ek bedoel, as jy net een ding moet noem wat jy regtig graag wil hê, wat sou dit wees?
‘n Verhouding? Ek wil graag getroud wees … Ek wens ek het ‘n beter huwelik gehad … Ek wens ek kon met my twee tieners klaarkom.
‘n Beter werk of ‘n beter baas miskien? Net nog ‘n paar duisend Rand per jaar vir ‘n paar van die luukshede van die lewe? ‘n Lekker vakansie? Wat sal dit wees?
Ons het almal daardie een versugting. As ek maar net dit kon hê. . . .
Maar diep in ons harte weet ek en jy albei dat as ons daardie ding sou kry, daar net nog ‘n ander ou dingetjie op die lysie sal wees, nie waar nie? En nog een, en nog een …
Dit lyk asof “daardie één ding,” wat dit ook al in jou lewe is, nooit die vermoë sal hê, om jou totaal te bevredig nie. Want diep binne-in ons harte het God ‘n versugting geplaas – of ons dit nou besef of nie, of ons bereid is om dit te erken of nie – na iets veel groter.
Die apostel Paulus sê vir sy vriende in Rome in:
Romeine 15:13 Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!
Dit klink vir my asof Paulus net die regte dinge vir daardie Romeinse Christene gebid het. Vreugde, vrede en hoop in die krag van die Heilige Gees.
Daardie “één ding” … dit sal jou nooit tevrede stel nie. Net God kan.
Dit is Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.