Die Bitter Smaak van Sukses
We're glad you like it!
Enjoying the content? You can save this to your favorites by logging in to your account.
1 Timoteus 6:10 Geldgierigheid is 'n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.
Watter prentjie skets jy in jou gedagtes wanneer jy stil word en aan jou toekoms dink? Wat is die dinge waarna jy smag? Hoe lyk jou perfekte toekoms in jou verbeelding?
Sukses. Dit is sekerlik waaroor die lewe gaan. As ek net met daardie perfekte man (of vrou) kon trou. As ek net ‘n werk kan kry wat goed betaal en vir my die perfekte loopbaan kan bou. As ek net daardie nuwe motor en daardie waterponie – of soos ons hom ken ‘jet ski’- kan kry. En wat van daardie duur uitrusting wat ek nog altyd wou hê… Sou dit nie wonderlik wees as mense sou wens om soos ek te lyk en te besit wat ek het nie? Ja, dan … dan sal ek gelukkig wees.
Daar het jy dit. Daardie hunkering na die soet, soet smaak van sukses. En dit is hoe baie mense dink. Ek weet, want ek het ook vroeër so gedink. Dit is hoe ons kondisioneer is om te dink.
En nou dink ons dat God net agter ons aan moet drentel om al ons grille en begeertes te vervul.
Ongelukkig is daar so baie mense wat hulle hele lewe daaraan wy op soek na daardie soort sukses. Hulle offer alles op vir ‘n onwerklike beeld van sukses, wat as aas voor jou uitgehou word deur goed betaalde mense wat met jou kop smokkel. Maar ons lees in:
1 Timoteus 6:10 Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.
Dit is wat vlak, wêreldse sukses is. Waar jy soetheid verwag, ontdek jy bitterheid. Natuurlik kan jy dít kry waarna jy gestreef het – die huwelik, die salaris, die loopbaan, wat ook al … maar jy kry ook ‘n hele klomp probleme wat jy nooit, in jou wildste drome, verwag het nie.
Sukses. Dit is soms net ‘n hersenskim!
Dis God se Woord. Vars … vir jou … vandag.